Insig, Mei 2003

Ingrid Jonker

Sien jouself in Ingrid

RESENSIES:

Ingrid Jonker Selected Poems.

• Wil jy een van dié skrywer se werke resenseer - en wen? Klik hier.

NOG INLIGTING::

Ingrid en Uys

Sedert 'n jong Ingrid Jonker - digter, later ikoon vir 'n nuwe generasie - in die winternag van 18 Julie 1965 die see ingestap het, het haar familie jaloers oor die besonderhede van haar lewe gewaak. Maar ná 'n intensiewe speurtog - die eerste keer mét die volle toestemming van die familie - verskyn PETROVNA METELERKAMP se omvattende lewensverhaal van Ingrid, met tot nog toe ongepubliseerde inligting.

Wat was die ware rede vir die mooi, jong, begaafde Ingrid Jonker se selfmoord? Daaroor word al baie jare bespiegel. Dokumentêre programme het van die vrae probeer uitpluis. In artikels is gewonder: Wás dit selfmoord - of dalk móórd? En watter rol het haar minnaars gespeel - André Brink? Jack Cope? Was dit depressie wat Ingrid die see laat instap het? Was dit 'n tekort aan géld wat haar op so 'n jong ouderdom tot dié desperate stap gedryf het? (Sy was maar 31 toe sy dood is.)

Dat die prys van 'n treinkaartjie moontlik haar laaste bietjie moed gebreek het, is nie iets wat ek of een van haar ander biograwe sou vermoed nie. Tog was dit een van die verrassende bevindings wat 'n speurtog van drie jaar opgelewer het. Ook dat Ingrid se pa, wie se liefde sy nooit kon wen nie, ná haar dood straf bly drink het totdat hy - met haar naam op sy lippe - die ewigheid in is.

Ander ontdekkings is gemaak: dat sy as jong mens beeldhoulesse geneem het, geskilder, aan die Kaapse Eisteddfod deelgeneem, in protesoptogte voorgeloop het en ook fotografiese model was.

Die gedagte aan 'n boek oor die lewe van Ingrid Jonker het ná haar suster Anna se dood in 2000 by Anna se dogter, Catherine de Villiers, ontstaan. Dit was nadat Ingrid se besittings - wat Anna so streng bewaar het - deur Catherine se broer, Anthony Bairos, verkoop is. Die Nederlandse hofdigter Gerrit Komrij het vir die koffers en kartondose met Ingrid se nagelate briewe, manuskripte, foto's, dagboeke, bandopnames en 'n volle biografie van haar wat Anna na bewering geskryf het, betaal en is daarmee na sy huis in Portugal. Catherine en Ingrid se dogter, Simone, het niks van die koopsom van R50 000 ontvang nie omdat Anthony glo "skuld" en "die begrafniskoste" van sy ma daaruit betaal het.

TOE EK OP 'N Saterdagogged in Junie 2000 op Hermanus se opelugmark vir Catherine by haar stalletjie ontmoet, was dit om boek te praat. Sy wou haar ma se bestaande biografie van Ingrid se kinderdae, soos dit in die jare sewentig in die Tydskrif vir letterkunde verskyn het, in boekvorm publiseer. Daarby wou sy hê daar moes oor Ingrid se lewe geskryf word, maar op só 'n manier dat "elkeen wat die boek oopmaak, homself daarin sal sien".

Maar bittermin van Ingrid se lewe was bekend. Selfs die feite om haar geboorte was onduidelik. Ek het begin lees en soek, en Catherine het haar gedagtes en herinneringe, 'n paar briewe en foto's asook 'n kopie van 'n doktorale proefskrif bygedra. Die eerste groot besluit was om nié 'n biografie te skryf en daardeur Ingrid se lewe te probeer vertolk nie.

'n Verwysing in J.D.F. Jones se boek oor die lewe van Laurens van der Post was genoeg om te waarsku teen 'n subjektiewe aanslag. Jones praat van "... Ingrid Jonker, the young Afrikaans poet who drowned herself, in eighteen inches of sea-water...".

Om 'n boek objektief saam te stel deur bloot feite (en herinneringe) te versamel en nie sensor te speel deur sekere materiaal uit te laat nie, was myns insiens die oplossing, veral vir die aanbieding van 'n lewensverhaal waarom voorheen vele stories geweef was. Die beleid dus: Alles wat gevind word, kom in die boek.

En vind, het ek gevind: 'n ryke bron van betroubare inligting, onder meer in 'n D.Phil.-proefskrif in Catherine se besit: Ingrid Jonker: 'n Psigologiese perspektief deur L.M. van der Merwe (1978). Hoofstukke soos "Die dinamiek van haar gesinsagtergrond", "Haar lewensloop" en "Haar einde" was die wegspringplek vir verdere navorsing. So ook die proefskrif van Johan van Wyk, Die dood, die minnaar en die oedipale struktuur van Ingrid Jonker (1986), en dié van Erna Sadie, Ingrid Jonker - 'n monografie (1979).

Om in biblioteke, argiewe, die Seepuntse polisiekantoor, die Valkenburg-hospitaal, en by familie soos Ingrid se halfbroer Koos Jonker, kennisse en vriende van Ingrid inligting te soek wat 'n lewe beskryf, was 'n tydsame proses.

Altyd was daar vrae, meer en meer notaboeke vol vraagtekens.

"Ingrid se dood was 'n ongeluk wat nooit moes gebeur het nie," glo een van haar hegte vriende. "Sy het hoeveel keer probeer selfmoord pleeg," vertel 'n ander. "Sy het altyd gesorg dat iemand haar red," verklaar 'n derde.

En dan kom 'n mens af op 'n brief: Ingrid skryf skaars twee weke voor haar dood aan haar gewese minnaar Jack Cope: "... by the time this reaches you, it will be no good to search for me ... I shall go out tomorrow for a swim, and once I've got out far enough, I shall disappear."

Het Ingrid self haar waarheid geken? In 'n brief, ongeveer drie weke tevore, skryf sy aan Laurens van der Post (haar "aangenome vader", het sy hom genoem) dat sy om 'n beurs gaan aansoek doen om in Vlaandere te studeer. Van daar wil sy Londen en Parys besoek.

Ingrid het wel oorsee gereis. Dit was die jaar voor haar dood, nadat sy met haar digbundel Rook en oker die A.P.B.-prys van 1963 gewen het. Haar verblyf is kortgeknip deur 'n dramatiese breuk tussen haar en André Brink, saam met wie sy deur Spanje sou reis. Soos 'n paar keer tevore, veral in haar verhouding met Jack Cope, was die emosionele uitwerking van liefdesonmin vir haar te veel en het sy haarself in 'n senukliniek laat opneem.

Senuklinieke - dáár het 'n amusante voorval aan die lig gekom. Suzanne Fox, suster van Uys Krige wat 'n goeie vriend van Ingrid was, vertel: "I went to visit her in a home in Cape Town after she had a kind of breakdown. She said the strangest thing had happened: there was a woman who had been married to Abraham Jonker - his second wife. She laughed and said: 'Here we both are!' "

En ja, die Valkenburg- psigiatriese hospitaal het 'n rekord van behandeling wat Ingrid daar ontvang het.

'n Heel ander vraag met uiteenlopende, veronderstelde antwoorde is of Ingrid baie gedrink het voordat sy in die ysige see by Drieankerbaai ingestap het - indien sy ingestáp het!

By die Seepuntse polisiekantoor, waar dr. L.M. van der Merwe in die laat jare sewentig 'n staatspatoloog se verslag onder oë gehad het, was niks te vinde nie. Die oudste personeellid het haar bes gedoen om in die pakkamer oorvol bruin lêers na dossier nommer 56/65, A9 te soek.

Dit is waarskynlik vernietig, was die slotsom. Daarin staan, volgens Van der Merwe, aangeteken dat Ingrid se bloedalkoholvlak slegs 0,07% was en dat daar geen skadelike stowwe in haar ingewande was nie. Sou sy dan nugter die see ingestap het?

In haar verklaring aan die polisie sê Ingrid se vriendin Bonnie Davidtsz dat hulle die nag van Ingrid se dood saam by 'n restaurant was en dat Ingrid daarna onvas op haar voete was. Baie is daarvan gemaak, maar was dit bekend dat Ingrid haar been gebreek het en die gips toe pas afgehaal is? Saam het sy en Bonnie die aand net koffie gedrink, vertel Bonnie vandag. Maar sy is wel 'n rukkie voor Ingrid by die restaurant weg…

Om Bonnie Davidtsz te kon ontmoet was 'n hoogtepunt in die ondersoek na Ingrid as mens. Bonnie het die afgelope byna 38 jaar geen sprak gesprook oor Ingrid se laaste nag nie. Toe sy besluit om ter wille van die boek haar herinneringe te deel, was die emosie steeds rou. Sy en Ingrid was geliefde vriende. In Ingrid se briewe aan "Liewe ou Battleaxe", of "My liewe Bonnie", kom 'n sagte geaardheid vol mededoë na vore.

In haar briewe aan Bonnie het Ingrid haar hart leeggeskryf - oor haar groot liefde vir die ouer Jack; haar stormagtige verhouding met André; haar kommer oor die toekoms van haar kind; die gedagtes wat haar gedigte gevorm het - en dikwels oor die lyding wat sy haar eie "onsterflike siel" aandoen.

"Dit is mooi, misterige weer, ek het my getroue André (Brink), my Simone, my Tanya (die hond), en nog genade ook," skryf sy in 'n brief aan Bonnie ses maande voor haar dood. En vandag verstaan Simone.

"Sy wou doodgaan. Dis iets waaroor sy baie diep gedink het. Dit was haar keuse."

Ingrid Jonker - Beeld van 'n digterslewe verskyn by Hemel & See op Vermont. Dit sal van 1 Mei af in winkels beskikbaar wees of kan teen R199 by tel. 021 887 4562 bestel word. Die e-posadres is hemelensee@hermanus.co.za